Sojabone is die ideale wisselbougewas vir mielies maer is nie baie droogte bestand nie. Dis egter ‘n puik gewas wanneer daar goeie reen verwag word. Sojabone bied groot opbrengsverhogende voordele vir die opvolgende gewas.
Grond vir Sojabone
Sojabone kan op enige grond wat vir mielieproduksie geskik is, verbou word. Dit vaar egter swakker op sanderige grond wat laag in organiese materiaal is en beter op swaarder grond.
Gronde wat maklik toeslaan moet vermy word – die hipokotiel van die sojaboonsaailinge breek maklik onder druk.
Reënval en temperatuur
Sojabone kan verbou word by reënval van 600 mm en hoër, maar dit kan egter nie in droëgrond geplant word nie. Sojaboonsaad moet minstens 50% van sy eie saadmassa in vog opneem voordat dit sal ontkiem, vergeleke met die 30% van mielies.
Die gewas kan droogte vroeg in die seisoen goed hanteer, maar is egter baie gevoelig vir droogte vanaf die blomstadium.
Vogbehoefte is op sy hoogste tydens graanvulling. Aangesien sojabone oor ‘n langer periode blom, is dit minder gevoelig vir vog tekorte gedurende hierdie stadium as mielies.
Indien min vog beskikbaar is, word opbrengste nadelig beïnvloed as temperature bó 30°C styg. Temperature laer as 13°C vir lang periodes tydens die blomstadium, benadeel weer blom- en saadvorming.
Kultivars verskil wat dagligsensitiwiteit betref, wat beteken dat ‘n spesifieke kultivar gewoonlik slegs vir ‘n sekere gebied aangepas is.
Grondvoorbereiding
Grondvoorbereiding is daarop gemik om ‘n fyn, ferm, egalige, opkruidvrye saadbed te bewerkstellig, waar ontkieming vinnig en maklik kan plaasvind. Plantdiepte wissel van 1 cm – 5 cm vir klei of sanderige gronde. Plantestand is die belangrikste bestuursaspek waaroor die produsent beheer het. Die ideale stand wissel tussen 320 000 – 370 000 plante per hektaar, afhangend van die ry wydte.
Sojabone moet dig geplant word ten einde ‘n goeie plantestand vir optimale peulhoogte en opbrengs te kry. ‘n Hoër plantestand en nouer tussenry-spasiërings kan peulhoogte verhoog.
Grondtemperatuur moet bo 16°C wees vir effektiewe en doeltreffende ontkieming en dit bereik gewoonlik vanaf 15 Oktober tot 25 November die ideale ontkiemingstemperature.
Sojabone behoort binne vyf tot sewe dae ná planttyd deur die grondoppervlakte te breek. Stadige ontkieming lei tot swak saailinge en gevolglike oesverlies. Dagliglengte beïnvloed die oorgang vanaf vegetatiewe ontwikkeling na die reproduktiewe fase.
By kultivars met ‘n bepaalde groeiwyse staak die vegetatiewe ontwikkeling sodra die blomstadium ‘n aanvang neem. Anders as by mielies, word die stroopdatum nie dramaties beïnvloed deur die plantdatum nie. Kultivarkeuse en groeiklas speel hier ‘n belangrike rol.
Kultivarkeuse
Aspekte van belang by kultivarkeuse is:
- Groeiklas
- Groeiwyse – bepaald of onbepaald
- Staanvermoë
- Oopspring
- Groenstamme
- Groenpeule
Dit word algemeen aanvaar dat kultivars met ‘n langer groeiseisoen beter aangepas is vir areas met ‘n warmer klimaat, terwyl medium groeiseisoen-kultivars beter in gebiede met ‘n gematigde klimaat aangepas is.
Die stroopdatum moet in ag geneem word as groot aanplantings beplan word en deur verskillende kultivars te gebruik, word die stroopdatum verleng. Plantdatum is ook belangrik aangesien kultivars op dagliglengte reageer. As die plantdatum laat is, soos in baie gevalle waar sojabone ná koring geplant word, moet daar van ‘n kort groeiklas-kultivar gebruik gemaak word.
Staanvermoë en stroopbaarheid word grootliks bepaal deur ‘n kultivar se peul- en planthoogte. Langseisoen-kultivars het gewoonlik ‘n hoër peul- en planthoogte as kortseisoen-kultivars onder soortgelyke groeitoestande.
Kultivars met ‘n bepaalde groeiwyse word gewoonlik onder besproeiing en onbepaalde kultivars onder droëland aanbeveel.
Stikstof
Sojabone beskik oor die vermoë om stikstof met die hulp van Rhizobium bakterieë te bind. Indien sojabone suksesvol geënt is, sal die Rhizobium in die plant se stikstofbehoeftes voorsien.
Rhizobium bakterieë kom nie natuurlik in Suid-Afrikaanse gronde voor nie en die saad moet dus met ‘n vars, lewenskragtige entstof behandel word.
Aspekte van belang wanneer saad behandel word:
- Entstof is lewendig en moet met sorg hanteer word; en
- Direkte sonlig, hoë temperature en chemiese middels kan bakterieë vernietig.
Bemesting
Sojabone reageer goed op algehele grondvrugbaarheid. Die gewas beskik oor ‘n baie sterk wortelstelsel en kan voedingstowwe effektief benut. Dit reageer nie so goed soos mielies op bandgeplaaste kunsmis nie, maar
eerder op grondreserwes wat oor die langtermyn deur middel van die bemesting van vorige gewasse, opgebou is.
Werk bemesting in tydens grondvoorbereiding eerder as om dit te bandplaas. Maak seker dat fosfaat- en kaliumvlakke voldoende is en bemes met voldoende fosfaat en kalium indien grondontledings dit aandui.
Die voedingsbehoefte van sojabone per ton graanopbrengs is aansienlik hoër as dié van mielies.
Bekalking
Waar die grond se pH (KCL ) laer as 4,5 – 5 is, word bekalking aanbeveel. Boor-, sink- en ystertekorte kan ondervind word by ‘n grond pH van 6 en hoër. Molibdeentekorte kan voorkom by ‘n pH van 5 en laer. Molibdeen(Mo) speel ‘n belangrike rol in die stikstofbindingsproses. Tekorte kan nie met blaarbespuitings aangevul word nie; dit moet tydens die plantproses aangespreek word en kan dán met ‘n blaarbespuiting aangevul word.
Onkruidbeheer
Alle sojabone is gevoelig vir Atrasien-tipe onkruiddoders. Indien gronde enige residuele atrasien bevat kan atrasien as gevolg van bekalking vrygestel word vanaf die kleideeltjies.
Beheer van onkruide is kritiek in die verbouing van sojabone. In die vroeë ontwikkelingstadium word die jong saailinge beroof van lig, vog en voedingstowwe.
wenke
- Gebruik eerder ‘n mielieplanter as ‘n fynsaadplanter.
- Die pH van die grond moet bo 5,5 – 6,0 wees en kalk moet diep geplaas word indien dit nodig is.
- Sojaboonplante benodig ook bemesting, al kan dit stikstof bind.
- Soja onttrek baie meer kalium uit die grond as mielies – maak dus seker jou grond se voedingsbalans is reg voor jy mielies na die soja plant.
- ‘n Stelsel van wisselbou (bv mielies en soja) kan baie probleme voorkom.
- Planttyd is belangrik, hoe vroeër jy kan plant, hoe beter.
- Onkruid is soja se dood.
### Sluit aan by die SAAI Stigting. Dit is gratis en daar is geen verpligting – net inligting.
Gaan kyk hier //affiliatebank.net/afr