Kanola

Kanola toon belofte om ’n nuttige alternatiewe gewas in die somersaaistreke te word. Dit kan dubbeldoel dien as groenvoer én kommersiële oliesaad lewer en het boonop heelwat wisselbou-voordele. Dit word veral in die ontwikkeling streek as winter gewas aangeplant. As wisselbou teen 75% koring en 25% Kanola op jou plaas word meer wins per hektaar gemaak.

 

Kanola presteer beter as Hawer  en is meer droogte bestand as Lusern. Dit is in Clocolan geplant met groot sukses en word onder benut weens swak kennis.

Kanola

Plant Kanola so vlak moontlik. As daar genoeg grondvog is, hoef jy dit eintlik net bo-op die grond uit te strooi en vas te trap. Kanola groei vining en kan as weiding benut word in die wintermaande en dan nog gestroop word in die somer.

nat droogte

‘n Ander man het weer die kanola onder besproeing geplant en na een jaar het hy weer erdwums in sy grond gehad. Daarna  het hy mielies tussen die kanola se stoppels geplant en sy mielie oes het verdubbel. Die stoppels was nie verwyder of ingewerk nie omdat dit beter vog bewaar.

Wisselbou – Voordele met kanola;

* Dit verminder knopwortelaalwurm,
’n plaag met groot nadele vir mielies of sigorei.
 *Dit stuit grastipe siektes, soos vrotpootjie en fusarium, wat algemeen in ’n wisselbouprogram van koring- en mielies voorkom.
 *Dit verminder bruinskurf by aartappels met tot 60%, danksy die bioberoking van die grond.

 *Kanola se penwortel verseker droogte verdraagsaamheid.
 *Dieper en vinniger indringing van water.
 *Minder versuiptoestande.
 *Dieper vog- en voedingverbruik van opvolggewasse lei tot hoër opbrengste.
 *Beter vog- en voedingstofverbruik verminder die risiko van grondversuring.
 *Die weke wat kanola ’n langer blomtydperk as koring het, verminder die risiko van droogte-, ryp- en hittetye deur vir opbrengspotensiaal te vergoed.

 *Kanolasaailinge is rypbestand tot sowat -9 °C.
 *Die gehalte en droëmateriaal van Kanola as voer is hoër as hawer.
 *In die somerreëngebiede sal die voordeel van ’n vroeë planttyd met die laaste somerreën waarde met weiding toevoeg. Die Europese wintertipes kan dan gebruik word.
 *Die gebruiks moontlikhede van Kanola se hoë gehalte hooi en -kuilvoer versprei droogte risiko’s.

 *Onkruidweerstand by kanola kan voorkom of bestry word deur die gebruik van verskillende kanola-onkruiddodertipes, soos metazachlor (alle kultivars) en triasien, asook kultivars wat teen bepaalde onkruiddoders bestand is.
 *Die produksiekoste van Kanola is tipies minder as dié van koring.
 *Kanola verlaag die produksiekoste van die opvolggewas.

Wenke vir Kanola;

Noordelike kanolaboere het die voordeel dat hulle nie weer skoolgeld hoef te betaal nie, maar uit die foute van hul voorgangers in die Wes-Kaap kan leer.
Fouché en mnr. Willie Jonker van die saadmaatskappy Allgro, wat voorheen reeds kanola-kultivarproewe in die noorde (by Brits) gedoen het, gee ’n paar wenke:

 

• ’n Ferm en gelyk saadbed is ’n belangrike voorvereiste vir gelyke opkoms. Vestiging in die droëlandgebiede is moeiliker as onder besproeiing. Plant dus voor of met die laaste somerreën in goeie vog, of plant droog met reën daarna. As jy ná die reëntyd met bewerking plant, moet dit dadelik ná die bewerking geskied om goeie vog vir ontkieming te verseker. Hoe vroeër geplant word, hoe meer is die droëmateriaalproduksie en hoe meer en vroeër kan dit bewei word. Wees daarop bedag dat die reën in ’n El Niño-jaar vroeër kan ophou.

 

• Kanola verbruik 40 kg stikstof per ton saadopbrengs. Bemes dus dienooreenkomstig. Vir beweiding én oes moet bykomend bemes word. Op proefaanplantings waar ’n bykomende 50 kg stikstof per ha toegedien is, was die saadopbrengs ná beweiding net 8,3% minder as op lande wat nie bewei is nie. Kanola reageer uitstekend op bemesting.

Plant vir winter weiding

• In lae reënvalgebiede moet kanola so vroeg moontlik bewei word om té welige groei en dus hoë vogverbruik te voorkom. Gewoonlik behoort vroeë aanplantings (Januarie tot Maart) ná ’n maand tot ’n maand en ’n half reeds bewei te kan word.

 

Kanola_2
• Hoe vroeër beweiding gestaak word vanaf Mei, hoe vroeër kan ge-oes word en hoe hoër behoort die opbrengs te wees. As die land tot ná Junie of Julie bewei word, sal die oesproses so laat wees dat mielies nie in dieselfde seisoen geplant sal kan word nie.

 

• Omdat kanola ’n oliesaadgewas is, het dit ’n baie groter behoefte aan swawel en fosfate as ander grane. Die gewas benodig 7 kg fosfaat en 10 kg swawel per ton saad-opbrengs.

 

• Om oesverliese weens oopspring (as die peule te ryp word) te voorkom, moet teen sowat 12% vog geoes word. Die veiligste opsie in die somerreëngebiede is egter om die plante voor strooptyd in windrye plat te sny.

 

• Pasop vir ’n te hoë plantdigtheid onder besproeiing. Dit veroorsaak enkele lang, dun stamme met min vertakkings aan die onderkant, wat die staanvermoë verswak sodat die volwasse plante makliker omval. Plante wat omval of gaan lê, bemoeilik die oesproses omdat jy dan te laag moet platsny of oes. Dit verhoog die hoeveelheid plantmateriaal wat deur die platsnyer of stroper beweeg en veroorsaak verstoppings.

• As jy vroeg in die seisoen op droëland plant wanneer temperature nog hoog is, kan dit ’n risiko wees om die saad net op die grond neer te sit weens die gevaar dat die bogrond uitdroog. Hoe later in die seisoen, wanneer die kans vir reën kleiner is en dit kouer raak, hoe vlakker kan jy plant, maar dit moet steeds in goeie vog wees.

• Saadbehandeling teen insekte en grondgedraagde siektes is ononderhandelbaar.

Wanneer geplant?

• Somerkanola kan as ’n vanggewas benut word. Dit kan vanaf middel Desember tot die eerste week in Januarie geplant word om voor die ryptyd gereed te wees om gestroop te word. Gebruik dan kultivars met ’n kort groeityd. Winterkanola (kultivars met ’n lang groeityd van sewe tot agt maande) kan tot April geplant word. As dit later geplant word, verkort die groeityd dienooreenkomstig en dus ook die opbrengspotensiaal.

Pasop dan veral vir te veel los grond bo-op die klein saadjie. Kanola kan ook in die lente geplant word, veral as vroeë weiding nodig is, maar grondtemperature nog te koud vir somergewas-aanplantings is. In so ’n geval kan die kanola vir die lente, somer en daaropvolgende winter weiding verskaf as daar genoeg vog en plantvoeding is.

• Wat kultivars betref, kan Australiese lentetipes met ’n lang groeityd of Europese wintertipes vir vroeë wei-en-oes-aanplantings gebruik word. Die Australiese lente-tipes moet bewei word, anders blom hulle te vinnig en vorm peule. Dit beteken dat ryp die saad laat vries (soos by koring), wat opbrengs benadeel. ’n Voordeel van hierdie kultivars is dat die proteïeninhoud vir beweiding in die blom- en peulvormingstadiums vanaf 17,7% tot sowat 22% verhoog. Europese wintertipes het genoeg koue nodig voordat die plant in die reproduktiewe stadium van blom- en saadvorming sal ingaan.

Ons vertrou dat Kanola as alternatief ons Boere kan bevoordeel en baie meer benut sal word in die ontwikkeling streek.

Groetnis.

Word slim en sluit aan by die SAAI Stigting. //affiliatebank.net/afr of lees meer hier

//stigting.com

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.